Pennsilvaniese Duits Pennsilfaani-Deitsch | ||
---|---|---|
Gepraat in: | Verenigde State Kanada | |
Gebied: | Pennsilvanië | |
Totale sprekers: | 300 000-350 000 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Germaans Wes-Germaans Hoogduitse tale Pennsilvaniese Duits | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | geen | |
Gereguleer deur: | geen | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | geen
| |
ISO 639-2: | gem
| |
ISO 639-3: | pdc
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Pennsilvaniese Duits, Pennsilvaans of Pennsylfawnish Deitsch is 'n Duitse dialek in die ooste van die Verenigde State (in Pennsilvanië en Ohio) wat op 17de en 18de eeuse Palties baseer en nog steeds deur nasate van die oorspronklike immigrante onder meer in Pennsilvanië se Shenandoah-vallei gepraat word. Tussen 1870 en 1890 was daar nog 750 000 sprekers van hierdie taal, waarvan 600 000 in Pennsilvanië gewoon het. Teen 1920 het tussen 600 000 en 800 000 mense die taal gepraat, maar teen 1960 nog slegs 200 000 tot 300 000. Vandag word Pennsilvaniese Duits meestal deur lede van die Amiese Doopsgesindes en Mennoniete van die Ou Orde (Engels: Old Order Mennonites) gepraat, wat 'n hoë geboortesyfer het, dus groei die Pennsilvaniese Duits vandag baie vinnig.
Gedurende 1933 en 1934 is daar twee verenigings gestig, naamlik Fersomlinge en Grundsow wat die nuwe taal wou bevorder. In 1938 is daar op 'n taalkongres te Hershey, Pennsilvanië besluit op 'n standaardspelling vir die taal. In 1946 het die Universiteit van Pennsilvanië begin om kursusse in die taal aan te bied in sy Duitse departement. In 1954 is 'n handboek gepubliseer vir gebruik op skool, wat die grammatika behandel. Die titel van die boek was: Pennsylfawnish Deitsch.
Die woordeskat is deur Amerikaanse Engels beïnvloed. Enkele van sy woorde is deur Amerikaanse Engels ontleen soos byvoorbeeld Schmierkäs ('n soort sagtekaas) wat nou as smearcase bekend staan.
In die sogenaamde Pennsilvaniese Duits-distrikte het Engels en Duits dikwels tot 'n nuwe omgangstaal versmelt, en albei tale het woorde en idiomatiese uitdrukkings van mekaar ontleen.